Sy het die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf stormgeloop met haar debuutalbum en vinnig volksbesit geword. Met treffers soos Met Jou Klere Aan en Volmaan het sy almal oorrompel - jonk en oud.

Leah is beslis die naam op almal se lippe – hulle wil of haar vriendin wees of soos sy wees of net sê hulle ken die bondel energie wat altyd tyd maak vir ander. Haar debuutalbum, Wonderwerk, spog met goue status vir verkope en sy is ook deesdae aanbieder van kykNET se immergewilde Boer Soek ‘n Vrou reeks waar sy boere help in hul soeke na liefde.

Sy het die silwerdoek betree in 2013 in die musiekfliek As Jy Sing en verlede jaar in die rolprent, SUSTERS, waarin sy een van die hoofrolle vertolk het. SUSTERS het verskeie loketrekords gebreek. Leah is beslis een van ons land se besigste kunstenaars met optredes reg oor ons land waar sy aand na aand harte verower met haar unike klank en persoonlikheid. Sy is iemand wat maklik vir haarself lag en nie skaam is om ‘n no-make-up dag te vat nie.

Sy bly in Kaapstad saam met manlief, Hennie en hul twee hondekinders Lilla en Miggie. Sy is baie op die pad en min by die huis maar het ‘n sterk ondersteuningsnetwerk wat help dat sy haar droom kan uitleef. Haar passie vir musiek, dans en toneelspeel in aansteeklik! Sy is hard aan die werk aan ‘n splinternuwe album wat later vanjaar op die rakke sal wees en haar ondersteuners kan nie wag vir die nuwe musiek nie. Seisoen 12 van Boer Soek ‘n Vrou skop ook weer in Oktober af op kykNET.

Sy is nie net toegerus met twee albums nie maar Leah is ook ongelooflik goed gekwalifiseerd op vele vlakke. Sy het ‘n BCom (Regte) graad agter haar naam en opleiding aan die Waterfront Teaterskool, en het grootgeword in ’n huis gevul met deuntjies van haar pa se keuse. “Musiek is in my bloed,” voeg sy by. “Albei my ouers ondersteun my geweldig. My ma was nog altyd ’n voorstaander daarvan dat ek
eties en eerlik is in alles wat ek doen, wat dalk vreemd mag klink – maar dit is eienskappe waaraan ek hard werk en oral toepas.”

Ná inskrywings in ’n magdom musiekkompetisies, met TV-advertensiewerk tussenin, het Leah se groot
deurbraak gekom in die vorm van modelwerk: sy is raakgesien in November 2011 in Rapport se Model
van die Jaar-kompetisie wat sy ook gewen het. Kort daarna het die bekroonde liedjieskrywer Johan
Vorster haar hoor sing en onmiddellik aan die werk gespring om haar binne maande ’n opnamekontrak
te verseker.

Terwyl sy gewerk het aan haar langverwagte solo-debuutalbum, is die sangeres ook genooi om in die hoogs-aangeskrewe silwerskermsukses As Jy Sing te sing en toneel te speel. “Dit was ’n ongelooflike ervaring. Soveel so dat ek elke oomblik geniet het en dit met liefde weer sal doen,” deel sy mee. Johan en Appel het meeste van die snitte geskryf op Leah se eerste album, Wonderwerk wat ‘n koel versameling saamgeselsliedjies is en Leah se toetrede verteenwoordig. Haar tweede album is ‘n Deluxe weergawe van Wonderwerk wat vier splinternuwe liedjies sowel as twee heropnames en ‘n verrassing akoestiese nommer insluit en het ook goue status met verkope van meer as 20 000 eenhede.

“Wat ek doen is meer kontemporêr as pop,” verduidelik Leah. “Dink aan vroëe Rihanna, gemeng met ’n bietjie Jason Mraz, ‘n tikkie Jack Johnson daarby, met ’n groot skep passievolle organiese varsheid, en dan kom jy hopelik by my uit.” Wonderwerk het ook vir Leah verskeie toekennings en nominasies besorg. Sy wen Nuweling van die Jaar by die Ghoema Toekennings en kry nominasies vir Liedjie van die Jaar, Kontemporêre Album van die Jaar en Vroulike Kunstenaar van die Jaar. By die Huisgenoot Tempo Toekennings het sy ‘n driekuns behaal waar sy drie toekennings ingepalm het vir Nuweling van die Jaar, Musiekvideo van die Jaar en Liedjie van die Jaar vir Met Jou Klere Aan.

Snitte soos Ek Moes Jou Gesoen Het, met Bobby van Jaarsveld as gaskunstenaar, getuig van Leah se vernuf, van begin tot einde. “Ek wil net optree en musiek maak,” gee sy toe. “Toe ek grootgeword het was Laurika Rauch and Karen Wessels se Hoe Durf Jy name en liedjies wat so by my aanklank gevind het dat ek hulle navolg en alles waarvoor hulle en hul musiek staan. Maar hierdie keer lewer ek dit op my eie terme.”

Sy is popmusiek se mezzo-soprano, behendig en tersiêr opgelei – Leah is alles behalwe ’n oornagsukses of ’n verskietende stêr. Wat sy is, is 100% oorspronklik, dapper en krities oor musiek wat vir vele ander week in en week uit deug as agtergrond vir partytjies. “Ek dryf myself elke liewe dag, wat my stem betref, fisies en emosioneel, om my beste te gee in alles wat ek doen,” deel sy mee. “Anders, wat is die punt?”

Om haar stembande uit te daag, en haar gehoor saam te nooi vir die uitstappie is iets waarin Leah uitblink. “Ek beoog altyd om my luisteraars op ’n reis te neem,” vertel Leah. Stel jouself voor ’n hoë C, klavier, ’n bietjie ligte kitaar, en funky, ongewone en totaal moderne vertolkings van die wêreld om haar – Leah het bewys sy is die ware Jakob, selfs voor die eerste van baie nommer-een treffers sy merk vind.

“Ek het grootgeword en geniet my lewe,” sluit Leah af. “Ek is meer volwasse as toe ek in die musiekbedryf begin het. Vandag is ek gevestig en geheel en al betrokke by wat ek wil behaal. Ek weet wat ek wil hê en daarmee saam kom insig en die besef dat dit die moeite werd is om te wag vir goeie dinge.”

Die opwindende chick fliek, Susters waarin Leah een van die hoofrolle vertolk saam met Diaan Lawrenson, Quanita Adams en Sean Marco Vorster en gasspeler Annelisa Wieland van 7de Laan-faam het in Maart 2018 in fliekteaters regoor die land begin draai. Die volwaardige plaaslike ‘chick-fliek’ was die grootste Afrikaanse rolprent sedert Kersfees 2016 in terme van openingsnaweeksyfers. So as jy nog nie fliek gesien het maak ‘n plan of kry die DVD.

Na die sukses van Met Jou Klere Aan en Volmaan het sy ook onlangs ‘n trefferduet met Jo Black uitgereik getiteld, Nooit Alleen wat ook die temalied vir die fliek SUSTERS is. Haar funky treffer saam met Kurt Darren en Snotkop, Selfie Song, is ‘n lekker tong-in-die-kies liedjie en mense is gaande daaroor. Haar nuutste enkelsnit Ek Mag Jou Mis is nou digitaal beskikbaar en die prentjie-mooi musiekvideo is ‘n moet-kyk en verfilm by haar wegbreek plek St Helenabaai.

Posted in Artists.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *