Yonder Hartsfees – Skop jou skoene uit!

As jarelange tuiste vir persone met ‘n intellektuele gestremdheid het Yonder geen bekendstelling nodig nie.  Verlede jaar 2019 het ons die 1ste Yonder Hartsfees met groot sukses aangebied en vanjaar 2020 doen ons dit weer.

Die Noord-Kaap Geestesgesondheidsvereniging  sien daagliks na 280 persone met ‘n intellektuele gestremdheid om.  Yonder is beide ‘n permanente tuiste vir baie van hierdie mense, maar ook ‘n veilige hawe vir dagbesoekers.  Na ‘n deeglike assessering en vaardigheidsopleiding word baie van die persone uitgeplaas in die gemeenskap waar hulle met groot sukses by plaaslike besighede werk.  Daar is egter ook van Yonder se inwoners en dagbesoekers wat nie uitgeplaas kan word nie, maar wat daagliks hul take by een van Yonder se agtien werkswinkels op die terrein verrig.  Menswaardigheid is een van die grootste doelstellings van die instelling en elke persoon wat by dié besonderse instansie betrokke is weet hulle maak elke dag ‘n verskil, hulle is belangrik en hulle het soveel talente waarvan die gemeenskap net eenvoudig móét weet. Dus gaan ons voort met hierdie jaarlikse fees vir Kimberley en omgewing ten einde hulle vaarighede en fasiliteite ten toon te stel, maar natuurlik ook vir fondsinsameling.

Die feeskomitee is reeds aan die werk en menige rolspelers in die sakesektor van Kimberley is opgewonde om Yonder se hande te sterk en saam met hulle te werk om ‘n sukses van die spesiale inisiatief te maak.  Die fees gaan op Yonder se terrein aangebied word en sal ‘n eg Noord-Kaapse geur en karakter hê onder die skadu van die Kameeldoringbome.  Die organiseerders beplan ‘n program wat die hele gesin betrek en vermaak, lekker kos, lekker musiek, kunstenaars en ‘n jaarlikse kuier soos net Kimberley kan.

Ons wil graag vir die mense van Kimberley wys dat ‘n persoon met ‘n gestremdheid ‘n geleentheid vir die publiek kan aanbied wat niks kort van ‘n ware fees is nie’, so sê Jannie van Zyl – hoof van die Noord-Kaap Geestesgesondheidsvereniging. Ons wil ‘n geleentheid skep waar plaaslike talent kan skouers skuur met nasionale talent, waar plaaslike besighede ‘n geleentheid kan kry om fondse te genereer hetsy deur verkope op die feesterrein of deur besigheid wat die besoekers na Kimberley bring.

Vanjaar wil ons voortbou op die sukses van verlede jaar en dit groter en beter maak.

  1. Die parkeerarea word vergroot en die ry oppervlak verhard
  2. Die stof word aangespreek
  3. Baie gras is aangeplant
  4. Die eetarea gaan ‘n fees wees

 

2019 Fotos